‘n Rug-fusie deur twee klein snytjies in SA gedoen; pasiënte binne ure huis toe

Dr Shawn Venter

Het jy geweet ‘n rugoperasie kan nou deur twee klein sleutelgat-snytjies in die rug gedoen word? En dat die pasiënt slegs ure ná die operasie ontslaan word, self huis toe kan ry en kan sit, staan en lê soos voorheen? En dat die pasiënt selfs ná slegs 8 dae weer kan begin oefen?

Die nuwe tegniek genaamd bi-portale laminektomie, of – disketomie of – fusie word in twee sentra in Suid-Afrika gedoen, naamlik by die Spine Center in die Paarl en Kuilsrivier en in Richardsbaai.

Marí Hudson het met dr Shawn Venter, ortopeed verbonde aan die Spine Center in die Paarl gesels. Hy het sedert Junie 2022 meer as 100 van hierdie prosedures gedoen.

Luister hier na die volledige program op Gesondheid op RSG:

Die tegniek behels bi-portale endoskopie omdat twee klein snytjies in die rug gemaak word. ‘n Klein kamera word deur een gaatjie gestoot en die instrument deur die tweede gaatjie. Omdat die kamera-snytjie sowat 3 cm bokant die instrument snytjie is, kan die chirurg letterlik om hoeke kyk en baie goed sien waar om te sny en hoe om te sny.

Omdat die spier nie van die been afgestroop moet word soos in oop chirurgie nie, maar intakt bly, hoef dit nie weer te heg nie, en kan dit onmiddellik weer geaktiveer word nie. Ná oop chirurgie neem dit sowat 8 weke vir die spier om weer te heg (twee weke) en goed geaktiveer (nog ses weke) te word.

Die pasiënt is gouer op die been, het minder pynstillers nodig en daar is minder bloeding by die wond. Daar is ook ‘n kleiner risiko vir bloedklonte in die been en longkomplikasies weens lang tyd op rug.

Wat beteken die terme?

Nuwe tegnieke wat die afgelope 20 jaar vir rug-prosedures ontwikkel is, is mikrochirurgie, wat gelei het tot een-portaal endoskopiese prosedures en nou twee-portaal endoskopie, waarmee laminektomies, disketomies en selfs fusies gedoen kan word.

Deur twee klein snytjies word die rugoperasie gedoen.

‘n Laminektomie beteken ‘n gaatjie word deur die lamina van die werwel gemaak, of die hele lamina (die rugkant van die werwel) word verwyder. Met die bi-portale laminektomie word ‘n kleiner deel van die lamina verwyder.

Die lamina word verwyder om spasie te skep vir die uitstulping en om die uitstulping te verwyder
‘n Laminektomie

‘n Disketomie beteken die uitgestulpte deel van die tussenwerwelskyfie wat teen die spinaalkoord druk, word verwyder.

Die uitgestulpte tussenwerwelskyfie druk teen die senuwees
‘n Normale werwel en spinaalkoord en een met ‘n tussenwerwel-uitstulping

‘n Fusie beteken twee werwels word aan mekaar geheg. Dit word gedoen as die oorblywende tussenwerwelskyfie te dun is of deurgewerk is.

In ‘n enkelfusie word twee rugwerwels met skroewe aan mekaar geheg.

Lees meer oor die bi-portale diskektomie:

https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC7340825/

https://www.e-neurospine.org/journal/view.php?number=1031

Soortelyke plasings:

Sê nee vir obesiteit

Dit is moontlik om baie gewig af te skud sonder inspuitings, pille of kitsdiëte. Koskenner Marinda Engelbrecht het van 114kg tot 61kg gekrimp, van ‘n nommer 26 broek tot ‘n

Terugblik 2

Ons kyk terug op programme wat in 2025 baie luisteraarsreaksie uitgelok het. Ozempic/diabetes Vetsug is nou ‘n siekte op sy eie, en dit kan jou doodmaak, sê die wêreld se

Terugblik 1

Ons kyk terug op die belangrikste gesondheidsprogramme van 2025.

RSG Potgooie

Klik op die program, en jy sal die potgooie van die program vind. Aanddiens Aandgedagte Driesestig Dokumentêre Geestesgesondheid Geldsake Geloof wat grondvat Gesondheid Groeipyne Hoe verklaar jy dit? Intussen Kommentaar

Deel hierdie: